Wie kan van ‘n kind se boedel erf?

10 February 2021 0
“Ek het ‘n vriendin wat sedert haar kleinseun se geboorte vir hom sorg nadat haar dogter, toe die kind met liggaamsgebreke gebore is, bloot op hom uitgeloop het.  My vriendin het daarin geslaag om weens nalatigheid tydens die geboorte ‘n skikking van die hospitaal te bekom, en sorg nou vir die kind met die skikkingsgeld. Die kind is egter baie siek en het moontlik nie baie tyd oor nie, met die kans wat bestaan dat die biologiese ma skielik sou kon opdaag om die oorblywende gedeelte van die skikkingsgeld te probeer eis. Sekerlik is my vriendin geregtig op die geld aangesien sy al haar lewe lank na die kind kyk? Wat is die regsposisie daar rondom?”

In ons reg, wanneer ‘n minderjarige kind intestaat sterf, sal die ouer(s) van die kind die boedel van die kind erf dienooreenkomstig die bepalings van ons Wet op Intestate Erfopvolging. Dit sal beteken dat die ouma van die kind (soos jou vriendin) nie daarop geregtig sal wees om te erf nie aangesien die hele boedel na die ouer(s) van die kind sal gaan (dus jou vriendin se dogter). 

Dié posisie is egter in ‘n onlangse Hooggeregshofsaak hersien waar ‘n soortgelyke stel feite voor die hof gekom het. In hierdie saak is ‘n kind wat weens mediese nalatigheid serebraal gestremd is, R21 miljoen in skadevergoeding toegeken. Die pa het vir alle doeleindes kort ná sy geboorte uit die kind se lewe verdwyn en was glad nie betrokke by die grootmaak van die kind of om vir sy onderhoud te betaal nie. Die kind is dus in wese deur sy ma en ouma grootgemaak. 

Ten tyde van die kind se afsterwe, moes die hof beslis of die pa toegelaat was om van die kind se intestate boedel te erf en of die ma en ouma ook beide daarop geregtig was om te erf. 

Die hof het beslis dat die definisie van die woord “ouer” in die Wet op Intestate Erfopvolging nie vereis dat die ouer die bloed- of biologiese ouer van die kind hoef te wees wanneer dit daarby kom om intestaat te erf nie. Dienooreenkomstig, aangesien die vader verdwyn het is hy effektief van sy ouerlike verantwoordelikhede vrygestel, wat toe die ma en ouma s’n geword het, en het hulle in wese die ouers van die kind geword wat hulle daarop geregtig gemaak het om in gelyke dele intestaat van die kind se boedel te erf. 

Jou vriendin mag daarvolgens kan wys dat sy die eintlike ouer van die seun is en dat haar dogter, deur nie teenwoordig te wees nie, haar rol as ouer herroep het, wat jou vriendin potensieel daarop geregtig maak om, sou die kind sterf, die volle boedel te erf of minstens in gelyke dele met haar dogter van die boedel te erf. 

Let egter daarop dat dit nie ‘n outomatiese uitkoms is nie en dat die bewyslas by jou vriendin sal lê om te wys dat sy die rol van die kind se ouer en primêre versorger vervul het en daarom daarop geregtig is om te erf. Ons sal jou vriendin aanraai om die raad van haar prokureur of familieregspesialis in te win rakende die meriete van haar geregtigheid om, sou die kind sterf, intestaat te erf. 

Share: