Hoe geldig is die elektroniese ondertekening van ‘n ooreenkoms?

10 February 2021 0
“Ek het grootgeword met die teken van besigheidskontrakte deur pen op papier.  Weens Covid stuur die meeste van my verskaffers egter hulle ooreenkomste elektronies, wat ek teken deur digitaal ‘n afskrif van my handtekening daarop te voeg of, in sommige gevalle spesfieke sagteware te gebruik waardeur ek dan my handtekening aanbring. Dit maak dinge makliker, maar ek wonder net hoe geldig en bindend hierdie ooreenkomste is?”

Dienooreenkomstig Suid Afrika se gemenereg, hoef ooreenkomste nie op skrif te wees om geldig te wees nie, wat beteken mondelingse ooreenkomste (indien suksesvol bewys) is ook geldig en afdwingbaar. Om die geldigheid van geskrewe ooreenkomste te bepaal, moet ‘n mens vasstel of die vereistes van ‘n ooreenkoms teenwoordig is. 

Hier kan ‘n mens daarop let dat, soos met fisiese ooreenkomste geteken met pen op papier, het elektroniese ooreenkomste dieselfde vereistes waaraan voldoen moet word, naamlik: 

  • die inhoud van die ooreenkoms moet duidelik wees om die verpligting wat voortspruit vanuit die kontrak, te bepaal en af te dwing;
  • daar moet konsensus tussen die partye tot die ooreenkoms wees;
  • die partye moet die handelingsbevoegdheid hê om te kontrakteer;
  • die inhoud van die ooreenkoms moet wettig wees;
  • die kontrak moet uitgevoer kan word; en
  • enige vereiste formaliteite vir die spesifieke tipe ooreenkoms, moet nagekom word.
As ‘n mens aanvaar dat die elektroniese ooreenkomste wat jou verskaffer jou van voorsien het, voldoen aan hierdie vereistes, moet ‘n mens oorweeg wat presies ‘n geldige elektroniese handtekening is. Sedert die Wet op Elektroniese Kommunikasies en Transaksies 25 van 2002 in werking getree het (“WEKT”), is die meeste ooreenkomste nou geldig en bindend as daar ‘n elektroniese handtekening op is. Daar is sekere uitsonderings, soos die Wet op Vervreemding van Grond 68 van 1981 en die Wet op Testamente 7 van 1953 wat vereis dat sekere formaliteite nagekom moet word vir sodanige ooreenkoms om geldig te wees, en is uitgesluit in terme van die WEKT. ‘n Mens kan ook spesifiek die WEKT keer om van toepassing op ‘n kontrak te wees, wat beteken dat hoewel regtens jy die ooreenkoms met ‘n digitale handtekening kan onderteken, die kontrak ditself dit verhoed. 

Die WEKT laat effektief twee vorme van handtekeninge toe, ‘n ‘elektroniese handtekening’ en ‘n ‘gevorderde elektroniese handtekening’. ‘n Elektroniese handtekening word as “data wat aangeheg of geïnkorporeer word by, of logies geassosieer word met ander data en wat deur die gebruiker bedoel is om as 'n handtekening te dien”, gedefinieer. ‘n Voorbeeld hiervan is die gebruik van ‘n e-pen om op ‘n tablet te teken, die invoeging van ‘n geskandeerde beeld van jou handtekening of selfs die invoeging van ‘n standaard handtekening deur die gebruik van aanlyn-ondertekeningsplatforms of -sagteware. 

Aan die ander kant is ‘n ‘gevorderde elektroniese handtekening’ ‘n ‘elektroniese handtekening’ wat in terme van artikel 37 van die WEKT geakkrediteer is. Die onderskeidende faktor tussen ‘n ‘elektroniese handtekening’ en ‘n ‘gevorderde elektroniese handtekening’ is die waarmerk en verifikasie van laagenoemde deur ‘n Sertifiseringsowerheid. Vir waarmerking-produkte op die mark om so geldig soos ‘n ‘gevordere elektroniese handtekening’ te wees en  geakkrediteer te word in terme van die WEKT, moet hulle, onder andere, verseker dat die ‘gevorderde elektroniese handtekening’ uniek aan die gebruiker daarvan gekoppel is en moet dit in staat wees om die gebruiker te identifiseer. Hierdie produkte sal ‘n digitale sertifikaat uitreik wat die egtheid van die handtekening verifieer. 

In ag genome artikel 13 van die WEKT wat handel met handtekening, het jy basies drie gevalle waar die artikel van toepassing is en die ooreenkoms waarmee jy te doen het, sal bepaal watter van toepassing is. Eerstens, kan jy ‘n situasie hê waar geen handtekening vereis word nie, in welke geval die afwesigheid daarvan nie die ooreenkoms ongeldig maak nie.  Artikel 13(5) van die WEKT laat toe vir ‘n wilsuitdrukking om regskrag en regswerking te hê indien dit in die vorm van ‘n ‘data-boodskap is’ of daar ander bewyse is waaruit afgelei kan word dat ‘n persoon die noodsaaklike bedoeling gehad het. Artikel 11(1) van die WEKT verleen spesifieke regserkenning aan data-boodskappe, wat gevolglik aanbod en aanvaarding meebring by wyse van elektroniese data-boodskappe soos ‘n e-pos, of deur te kliek op ‘n tiekboksie (wat gewoonlik lees ‘Ek stem saam’) wanneer ‘n webwerf gebruik word. 

Tweedens, wanneer ‘n ‘elektroniese handtekening’ vereis word, maar die partye noem nie die tipe handtekening wat vereis word nie, sal die standaard ‘elektroniese handtekening’ aanvaarbaar wees. 

Laastens, in gevalle waar ‘n persoon se handtekening regtens vereis word, hoewel die reg nie die handtekening spesifiseer nie, sal slegs ‘n ‘gevorderde elektroniese handtekening’ gebruik kan word. Dit is omdat daar outomaties aanvaar kan word dat ‘n ‘gevorderde elektroniese handtekening’  ‘n geldige handtekening wat behoorlik toegepas is en dus bindend is op die partye tot die ooreenkoms, tensy die teendeel bewys word.  Daarteenoor sal ‘n ‘elektroniese handtekening’ slegs bindend wees indien ‘n metode gebruik kan word (welke metode  betroubaar en gepas moet wees gegewe die heersende omstandighede) om die persoon te identifiseer en om die persoon se goedkeuring dat die inligting gekommunikeer word, aan te dui. 

Om op te som: mits jou elektroniese ooreenkoms en elektroniese handtekening bogaande nakom, sal jou ooreenkoms geldig uitgevoer wees asook bindend wees op die partye tot die ooreenkoms. Waar enigsens moontlik, beveel ons aan om eerder gebruik te maak van ‘n ‘gevorderde elektroniese handtekening’ weens die sekuriteitsvoordele wat dit bied, maar tensy spesifiek vereis, is dit nie ‘n vereiste vir ‘n geldige kontrak om te bestaan nie. 
Related Expertise: Commercial Contracting, Corporate
Share: