51% swart aandele tender-voorafkwalifikasie-kriteria as ongeldig verklaar

29 January 2021 403

“My besigheid is in 26% swart besit maar is uitgesluit van ‘n hele aantal tenders weens voorafkwalifikasie-kriteria vir tenders wat daargestel is om in minstens 51% swart besit te wees. Ek sien egter in die nuus dat die howe nou dié praktyk geskrap het. Is dit waar?”


Jy is korrek dat die Hoogste Hof van Appèl (HHA) aan die begin van November 2020 opdrag gegee het dat die Voorkeurverkrygingsregulasies 2017 wat in werking getree het onder die Wet op die Raamwerk vir Voorkeurverkrygingsbeleid 5 van 2000, tersyde gestel en ongeldig verklaar word.  

Daardeur het die hof gelas dat die voorafkwalifikasie-kriteria in die Regulasies nie in lyn was met artikel 217 van die Grondwet, wat uitdruklik lui dat wanneer ‘n staatsorgaan goedere of dienste kontrakteer, dit gedoen moet word op ‘n regverdige, deursigtige, billike, mededingende en kostedoeltreffende manier nie. Waar voorafkwalifikasie-kriteria byvoorbeeld daargestel is om in 51% swart besit te moet wees en ‘n tenderaar se tender word dan as onaanvaarbaar beskou omdat dit nie in 51% swart besit is nie, sal dit ‘n skending van die bepalings van artikel 217 wees. 

Die hof het gelas dat staatsorgane eerder tenderaars wat in aanmerking kom moet toelaat en dan bod-evaluasie prosesse moet volg om tenderaars te kies gebaseer op prys en hul SEB-nakoming dienooreenkomstig die 80/20- of 90/10-sisteem, wat ook al die geval mag wees.

Die bevel van ongeldigheid is vir ‘n tydperk van 12 maande vanaf die datum van die opdrag opgeskort, om die regering die geleentheid te bied om die “fout” reg te stel. 

Na afloop van die uitspraak het die BBSEB-kommissie ‘n persverklaring uitgereik wat aandui dat uit hul oogpunt die HHA-uitspraak wat die WVVBR-regulasies as ongeldig verklaar, geen effek het op die Wet op Breë-gebaseerde Ekonomiese Bemagtiging nie en dat die BBSEB-wet staatsorgane toelaat om kwalifikasie-kriteria daar te stel (soos byvoorbeeld 51% swart besit) vir tenders wat die bepalings soos vervat in die BBSEB Goeie Praktykskodes, oorskry, mits daar met die Minister van Handel, Nywerheid en Kompetisie gekonsulteer word en sodanige Minister bevind dit is gepas om sodanige kwalifikasie-kriteria uiteen te sit. 

Dienooreenkomstig, indien ‘n mens die HHA-uitspraak lees tesame met die BBSEB-kommissie se verklaring, wil dit voorkom dat ‘n staatsorgaan nie enige voorafkwalifikasie-kriteria vir tenders moet publiseer voordat die Minister van Handel, Nywerheid en Kompetisie by wyse van ‘n kennisgewing in die Staatskoerant, daarvoor toestemming gegee het nie.

 

 

Share: