Die voordele van leerlingskappe vir jou besigheid

20 May 2021 0
“‘n Kollega het my ingelig dat ek dalk sal moet kyk na die implementering van leerlingskappe om die SEB-vlak van ons maatskappy te verbeter. Hoe werk leerlingskappe en kan dit regtig so voordelig wees?”

Om jou vraag te antwoord, is dit die beste om te begin by wat leerlingskappe is. Leerlingskappe is geakkrediteerde kwalifikasies waar ‘n leerder gelyktydig teoretiese- en ervaringsopleiding voltooi. Dit onderskei leerlingskappe van ander vorme van opleiding wat net teoreties mag wees, of net prakties, of waar die teoretiese en praktiese komponente apart aangespreek word, soos met ‘n internskap. Gewoonlik is daar drie partye by ‘n leerlingskap betrokke, naamlik die leerder, die werkgewer en die opleidingverskaffer. Dié partye sluit ‘n drieparty-leerlingskapooreenkoms wat die wetlike basis van die leerlingskapooreenkoms vorm.  Indien korrek bestuur, kan ‘n leerlingskap ‘n baie kragtige onderrigshulpmiddel wees aangesien dit teorie en praktyk in een proses kombineer.  

Leerlingskappe is ‘n belangrike komponent van die Vaardigheidsontwikkeling-prioriteitselement van ‘n BBSEB-telkaart aangesien leerlingskappe die onderskeidende voordeel het om talle van die sub-elemente van die Vaardigheidsontwikkeling-prioriteitselement aan te spreek. Dit beteken dat die koste van ‘n leerlingskap kan bydra tot verskeie sub-elemente met die gevolg dat jy in vergelyking jou gewenste punte teen ‘n laer koste kan bereik. In sekere gevalle, kan jy selfs onder ander elemente soos Bestuursbeheer en Onderneming- en Verskaffersontwikkeling punte verdien.  Leerlingskappe is dus ‘n noodsaaklike element van enige Vaardigheidsontwikkeling-beplanning en taamlik nodig om ‘n wesenlike telling vir Vaardigheidsontwikkeling te behaal.  

Daar is ook ‘n aantal indirekte finansiële voordele tot leerlingskappe, soos die feit dat jy die salarisse van jou werknemers wat jy op ‘n leerlingskap plaas kan laat tel as opleidingspandering vir SEB-doeleindes, asook die belastingvoordele wat deur artikel 12H van die Inkomstebelastingwet aan jou gebied word. Hoe groter die salarisvlak van die werknemers wat op ‘n leerlingskap geplas word, hoe groter is die vaardigheidsontwikkeling-erkenning wat jy kan verkry. Artikel 12H van die Inkomstebelastingwet stel jou ook in staat om tussen R80,000 en R120,000 per leerlingskap van jou belasbare inkomste af te trek, wat in wese vir jou maatskappy ‘n belastingaansporing bied om leerlingskappe te implementeer.

Natuurlik, ten spyte van die SEB-punte en finansiële aansporing, is die hoof- en blywende voordeel van leerlingskappe die geleenthede wat dit vir wesenlike vaardigheidsontwikkeling vir jou werknemers bied. Deur in sodanige formele opleidingsprogramme te belê, kan jy julle moraal verhoog en ook wys dat jy in jou werknemers asook in opleiding en onderrig wil belê. 

Sou jy die opsie van leerlingskappe vir jou maatskappy wil oorweeg, sou ons jou aanraai om dit eers met jou SEB-konsultant of vaardigheidsontwikkeling-adviseur te bespreek. 
Share: