Hoe om ‘n deeltitelontwikkeling te begin

14 June 2021 0
“Ek het ‘n stuk grond geërf wat ‘n paar mense al opgemerk het ideaal is vir ‘n klein deeltitelontwikkeling. Ek weet dit sal duur wees en tyd neem, maar ek het gewonder of jy kortliks vir my kan verduidelik wat moet gebeur vir my om dit te laat realiseer?”

Om jou drome in realiteit te verander, sal ‘n aantal rolspelers by die deeltitel-ontwikkelingproses betrokke moet wees. 

Aan die begin sal jy ‘n landmeter en stadsbeplanner moet kontak om jou te help met die aanvanklike omsigtigheidsondersoek op die eiendom om te bepaal of ‘n deeltitelontwikkeling toelaatbaar en uitvoerbaar is, insluitend om ondersoek in te stel na of die land gesoneer is vir deeltitelontwikkeling en die relevante Ruimtelike Beplanning en Grondgebruik-bestuursvereistes soos voorgeskryf deur jou plaaslike Munisipaliteit in terme van SPLUMA. Daarna sal hulle jou moet help om die nodige aansoeke aan jou plaaslike Munisipaliteit voor te berei, wat op hul beurt jou aansoek vir jou deeltitelskema sal moet oorweeg en uiteindelik aan jou ‘n toestemmingsbrief beskikbaar stel. 

Jou landmeter sal ook die deeltitelplanne vir jou voorgestelde deeltitelskema moet voorberei, wat by die Landmeter-generaal vir goedkeuring ingedien moet word. Sodra die goedgekeurde deeltitelplanne van die Landmeter-generaal ontvang is, sal die volgende stap wees om ‘n aktebesorgingsprokureur by ‘n regsfirma te raadpleeg om jou met die registrasie van jou deeltitelskema en -planne by die aktekantoor, by te staan. 

Jou aktebesorgingsprokureur sal aansoek doen by die Registrateur van Aktes vir die opening van die deeltitelregister en die registrasie van die deeltitelplan. Die prokureur kan nie enige eenhede in die deeltitelskema oordra voordat die deeltitelregister geopen is nie, selfs al het voornemende kopers reeds hul eenhede direk vanaf die bouplanne gekoop. 

Die prokureur sal jou verder help om ‘n skedule van voorwaardes voor te berei en die relevante finansiële instelling se toestemming te verkry indien daar ‘n bestaande lening oor die eiendom is. 

Gelyklopend sal jy moontlik ook een of meer eiendomsagente moet betrek wat jou deeltitelontwikkeling kan begin bemark en vir jou potensiële kopers kan soek. 

Indien jy ernstig is oor ‘n deeltitelontwikkeling, mag dit raadsaam wees om, voor jy enige prosesse begin of kostes aangaan, dit met jou aktebesorgingsprokureur te bespreek. So ‘n kenner sal jou met die proses kan bystaan en ook help om die gepaste persone te identifiseer wat jy moet raadpleeg, soos hierbo uiteengesit, en so help om jou droomontwikkeling ‘n realiteit te maak. 
Related Expertise: Property Transfers
Share: