Kan ‘n e-pos as laaste testament kwalifiseer?

14 June 2021 0
In Suid-Afrika, word die vereistes vir ‘n geldige testament uiteengesit in die Wet op Testamente 7 van 1953. Die testateur of testatrise moet 16 jaar oud of ouer wees, die testament moet op skrif wees, en elke bladsy van die testament, insluitend die laast bladsy van die dokument, moet deur die testateur of testatrise in die teenwoordigheid van twee of meer bevoegde getuies wat elk 14 jaar oud of ouer is, geteken word. 

Ten spyte van dié vereistes, maak artikel 2(3) van die Wet voorsiening vir ‘n hof om die Meester van die Hoë Hof opdrag te gee om ‘n dokument as geldige testament te aanvaar, vir die doeleindes van die Boedelwet, 1965 indien dit bedoel was om die testateur se testament of ‘n wysiging van sy testament te wees. Voordat so ‘n opdrag toegestaan word, sal ons howe egter eers die feite van elke saak oorweeg.  

Ons howe het tot dusver bevind dat ‘n letterlike benadering tot die woord “opgestel” gebruik moet word, in dat die dokument direk deur die oorledene in sy/haar persoonlike hoedanigheid voorberei moes gewees het, en nie deur ‘n derde party nie. Dienooreenkomstig, waar ‘n oorledene persoonlik ‘n dokument opgestel het, kan dit aanvaar word dat die oorledene bedoel het dat die dokument sy finale testament moet wees.  

Hierdie siening is al nog verder geneem en het ons howe bevind dat selfs ‘n elektronies-opgestelde dokument wat ongeteken is, maar wat gewys kon word as persoonlik deur die oorledene opgestel en bevestig dat dit bedoel was om ‘n finale testament te wees, as geldig beskou kan word, en dat selfs die afwesigheid van ‘n handtekening nie ‘n absolute verbod daarop plaas dat die dokument as ‘n geldige testament beskou kan word nie, met die klem te alle tye op die bedoeling van die testateur. 

Om dit selfs verder te neem, is dit al bevind dat ‘n instruksie van ‘n terminaal siek oorledene aan haar bank om namens haar ‘n testament op te stel, maar wat toe oorlede is voor die testament behoorlik uitgevoer kon word, ‘n geldige testament was, weereens gebaseer op die bedoeling van die oorledene asook die omstandighede daarom. In ‘n ander saak waar die oorledene egter slegs ‘n instruksie aan die bank gerig het om die testament voor haar afsterwe op te stel, het die hof bevind dat die instruksie om ‘n testament op te stel nie genoeg was om ‘n geldige testament te verteenwoordig nie.  

Die betrokke dokument is deur die oorledene onderteken en was bloot ‘n instruksie aan die bank om ‘n laaste testament namens haar op te stel. Die oorledene het die aansoek-dokument ‘n dag voor haar afsterwe voltooi, en die instruksie om die testament op te stel is nie voor haar afsterwe uitgevoer nie. Die hofaansoek is uiteindelik sonder kostes van die hand gewys. 

Wat hieruit afgelei kan word, is dat ons howe gewillig is om te bevind dat dokumente wat die bedoeling van die oorledene uitdruk, ‘n geldige testament is. Daar bestaan nogtans geen definitiewe reël nie en moet die omstandighede van elke saak versigtig oorweeg word om vas te stel of die oorledene wel bedoel het dat die dokument as geldige testament beskou moet word. 

In jou geval, sou die geldigheid van jou tannie se testament bevraagteken word, kan ‘n aansoek in terme van artikel 2(3) van die Wet voor die hof gebring word, en kan die hof gevra word om te bepaal of die instruksie neerkom op ‘n geldige testament, of nie.
Share: