Kan ek ‘n besigheid vanaf ‘n residensiële eiendom bedryf?

14 September 2021 0
“Ek oorweeg om ‘n ou huis te koop en dit op te knap om as kantore vir my algemene mediese praktyk te gebruik. In die gebied waarna ek kyk, is daar reeds ‘n aantal klein besigheide wat ook vanuit huise bedryf word. Ek wil egter seker maak dat ek my praktyk vanaf hierdie eiendom kan bedryf? Hoe doen ek dit?”

Om te verseker dat jy jou mediese praktyk vanuit die relevante eiendom kan bedryf, sal jy moet kyk na jou titelakte sowel as die sonering van die beoogde eiendom. 

Die titelakte van die eiendom mag voorwaardes bevat wat die bedryf van enige besigheid of die bedryf van sekere tipe besighede op die eiendom, beperk. Die titelakte mag ook beperkings bevat rakende die uitbreiding van of aanbouing aan die geboue op die eiendom, wat op sy beurt jou ook mag beperk ten opsigte van die uitbreiding van julle kantore.  Dit is daarom belangrik om ‘n omsigtigheidsondersoek op die eiendom te doen en jou prokureur of eiendomspesialis te vra vir ‘n afskrif van die titelakte en dit vir enige beperkinge te hersien.  

Jy sal ook moet kyk na die sonering van die eiendom. Sonering verwys na die verdeling van ‘n stad in sones wat op sy beurt die tipe en getal geboue en hul gebruik in daardie sone, beperk, met die doel om behoorlike gebruik van die grond te bewerkstellig. Om te bepaal onder watter sonering jou eiendom val, kan jy jou plaaslike owerheid kontak vir duidelikheid oor hierdie sonering, of jou prokureur of eiendomspesialis vra om jou daarmee te help.  

Daar moet op gelet word dat elke plaaslike owerheid verskillende bywette en reëls rakende sonering sal hê. Daarvolgens mag dit wees dat hoewel sekere besighede in ‘n sone bedryf mag word, ander besighede weer nié toegelaat word nie. Sodra jy die sonering van jou eiendom bepaal het, kan jy bepaal of die sonering vir residensiële en/of besigheidsdoeleindes is. Sou besigheidsaktiwiteite toegelaat wees, mag dit ook raadsaam wees om te verseker dat jy die tipe praktyk wat jy wil bedryf met jou prokureur of eiendomspesialis bespreek om te verseker dat jou praktyk binne die toegelate besigheidsaktiwiteite val. Dit mag gebeur dat jou aanvanklike praktyk toegelaat word, maar dat jy beperk word ten opsigte van die latere uitbreiding van jou praktyk. Weereens sal ‘n omsigtigheidsondersoek vooraf, help om probleme later, te vermy.

Sou dit wees dat jou sonering nie toelaat vir jou tipe van beoogde besigheidsaktiwiteit nie, kan jy oorweeg om aansoek te doen om hersonering van die eiendom. ‘n Hersoneringsaansoek kan tydrowend en duur wees, en jy sal die dienste van jou prokureur sowel as ‘n stadsbeplanner moet inwin om jou met die nodige aansoeke te help. Dit is ook nie ‘n gegewe dat jou aansoek sal slaag nie. Nietemin, sonder jou plaaslike owerheid se goedkeuring vir ‘n hersonering van die eiendom, sal jy nie in staat wees om wettiglik jou praktyk op die eiendom te bedryf nie. 

Die implikasies kan massief wees indien jy ‘n eiendom koop en opknap vir ‘n besigheid wat dan uitdraai om nie wettig toegelaat te wees om vanaf die eiendom bedryf te word nie. Dit is daarom hoogs raadsaam dat jy vooraf jou prokureur of eiendomspesialis raadpleeg om jou te help om die nodige omsigtigheidsondersoek te voltooi voordat jy besluit om die eiendom te koop. 
Share: