Kan my werknemer weier om werk toe te kom weens Covid-19?

16 March 2021 0
“Hoewel ons die einde van die Covid-19 pandemie nader, het ek steeds ‘n aantal van my werknemers wat weier om werk toe te kom weens Covid-19. Ek het verdra dat hulle tuis bly, maar my probleem is dat daar baie min werk is wat hulle van die huis af kan doen, hoewel ek hulle steeds moet betaal. Kan ek hulle dwing om terug te kom?”

Suid-Afrikaanse werkgewers is ten sterkste aangemoedig om werknemers, waar moontlik, gedurende die Covid-19 pandemie toe te laat om van die huis af te werk. Ten spyte daarvan, mag werkgewers steeds van werknemers vereis om vir werk aan te meld, veral wanneer die werkgewer die Covid-19 regulasies van toepassing op die werkplek, nagekom het. 

Volgens die nuutste gekonsolideerde voorskrifte deur die Minister van Arbeid en Indiensneming uitgereik om die verspreiding van Covid-19 in sekere werkplekke te bekamp, mag ‘n werknemer slegs weier om werk toe te kom indien daar ‘n redelike regverdiging is om te glo dat daar omstandighede is wat ‘n dreigende en ernstige gevaar vir blootstelling aan Covid-19 inhou. Dit mag wees in gevalle waar die werkgewer versuim het om ‘n veilige werksomgewing te bied deur byvoorbeeld nie voorsiening te maak vir gesigmaskers, handsaniteerders of voldoende sosiale distansiëring nie, of nie enige voorskrif vir beroepsgesondheid en -veiligheid in die werkplek nagekom het nie. 

Die voorskrifte vereis verder van werkgewers om bykomende maatreëls in plek te stel wat spesifiek en gepas tot die behoeftes van kwesbare werknemers is. Dit mag werknemers wees wat, weens hul ouderdom of onderliggende gesondheidstoestande, beskou word as om in groter gevaar van komplikasies of dood te wees sou hulle Covid-19 kry.  Sodanige werknemers moet toegelaat word om van die huis af te werk of om slegs op sommige dae te kom werk, sou die aard van hul werk dit toelaat. 

Wat egter duidelik is, is dat ‘n werknemer geen absolute reg het om te weier om te gaan werk nie, veral wanneer die werkgewer redelike stappe geneem het om te verseker dat die gevaar van die verspreiding van Covid-19 in die werkplek, verminder is. 

Die Kommissie vir Konsiliasie, Mediasie en Arbitrasie (KVBA) moes onlangs beslis of dit regverdig was vir ‘n werkgewer om ‘n werknemer af te dank weens versuim om vir werk op te daag weens Covid-19. In dié saak, is ‘n verkoopsbestuurder aangekla van en afgedank vir growwe ongehoorsaamheid vir weiering om aan sy werkgewer se opdragte om aan te meld vir werk gedurende die sogenaamde “Waarskuwingsvlak 5”-grendeltyd, gehoor te gee.   Die werknemer se toesighouer het hom ingelig dat die maatskappy aansoek gedoen het om ‘n sertifikaat wat dit in staat stel om voort te gaan met sy bedrywigheide gedurende die grendeltydperk.  Die werknemer het egter verskeie redes gegee waarom hy nie in staat was om werk toe te kom nie insluitend dat hy nie van persoonlike beskermende toerusting en ‘n werkspermit om na en van die werkplek te reis, voorsien is nie.  

Die Kommissaris van die KVBA het bevind dat die werknemer se bewerings vals en ongegrond was, aangesien die werkgewer redelike stappe geneem het om die werknemer se bekommernisse aan te spreek. Die afdanking van die werknemer is daarvolgens bevind om substantief regverdig maar prosedureel onbillik te wees, weens ‘n redelike oortuiging dat die werknemer nie die geleentheid gebied is om voor sy afdanking, versagtende faktore voor te hou nie. 

Die belangrikheid van hierdie besluit is egter dat dit bevestig dat die Covid-19 pandemie nie vir ‘n werknemer die allesomvattende reg gee om te weier om werk toe te kom nie, asook dat dit hulle nie beskerm teen die gevolge van hul keuses wanneer hulle weier om hul werkgewers se redelike opdragte te volg nie. Eweneens bly werkgewers pliggebonde om regverdige prosedures te volg voordat hulle hul werknemers afdank, en moet hulle verseker dat hulle die nodige voorsorg getref het voordat hulle aandring dat werknemers aanmeld vir werk.
Share: