Verjaring en borg speel nie altyd goed saam nie

29 January 2021 803

“Ons maatskappy word geld geskuld deur een van ons kontrakteur-maatskappye vir wie ons met finansiering gehelp het en wie se aandeelhouers aan ons persoonlike borge gebied het as sekuriteit vir die transaksie. Hulle maak gedurig beloftes dat hulle dit sal betaal en ons het dit nog heeltyd gelos, maar ons raak nou bekommerd oor verjaring. Ons is ook onseker of indien ons teen die borge sou optree, verjaring vir die kontrakteur gestop sal word of sou voortgaan en ons dan ons eis teen die maatskappy self verloor. Kan jy asseblief raad gee?”

Om jou vraag te antwoord, moet ons van die terme se betekenisse verduidelik. 

“Verjaring” is ‘n regsbeginsel in terme waarvan ‘n skuldenaar se aanspreeklikheid om uitstaande skuld te betaal, uitgewis word ná ‘n voorgeskrewe tydperk verby is. Die Verjaringswet 68 van 1969 bepaal verskillende tydsperiodes vir verskillende tipes skuld, met die mees algemene skuld, naamlik ‘n skuld wat ontstaan vanweë ‘n delik (soos byvoorbeeld skade wat aan iemand se eiendom gebring is) of kontrak (soos byvoorbeeld die skending van ‘n kontrak se bepalings, wat dan skade meebring), wat drie jaar nadat dit betaalbaar geword het, verjaar. Dit beteken dat die skuldenaar nie aanspreeklik sal wees vir die betaling van die skuld indien drie jaar verby is sedert die skuld verskuldig geword het nie. 

Die verloop van verjaring kan egter onderbreek word deur: 


  • ‘n Erkenning van skuld deur die skuldenaar; of 
  • ‘n Dagvaarding wat uitgereik en beteken is op die skuldenaar deur die krediteur om sodoende betaling van die uitstaande skuld, te eis.

Aan die ander kant neem ‘n “borg” die verpligting van die hoofskuldenaar op homself om die skuld te betaal sou die hoofskuldenaar versuim om die skuld te betaal. Deur borg te staan, onderneem persone soos die aandeelhouers in jou situasie, om pa te staan vir die hoofskuld sou die hoofskuldenaar nie die betaling bybring nie. 

Ons howe moes onlangs oorweeg of die onderbreking in die verloop van verjaring teen een borg deur die betekening van ‘n dagvaarding, die verloop van verjaring teen die hoofskuldenaar of ander borge onderbreek of vertraag. 

Ten opsigte van mede-skuldenaars, is bevestig dat ons gemene reg toelaat vir die geregtelike onderbreking van verjaring van ‘n mede-skuldenaar deur die uitreik van ‘n dagvaarding op ‘n ander mede-skuldenaar. Ten opsigte van borge, het die hof egter bevind dat ‘n borg nie ‘n mede-skuldenaar van die hoofskuldenaar word nie, en ook nie ‘n mede-skuldenaar word van enige van die ander mede-borge en mede-hoofskuldenaars nie, tensy hulle spesifiek daartoe ingestem het. 

Dit beteken dat die instel van optrede teen ‘n borg en die onderbreking van verjaring teen daardie borg daarvolgens nie die onderbreking van verjaring teen die hoofskuldenaar, of selfs teen die ander borge, sal meebring nie. Dit beteken verder dat jy moet waak teen verjaring en nie aanneem dat dit gestop sal word indien jy teen ‘n borg sou optree nie. Indien jy besorg is oor verjaring, maak seker jy raadpleeg onmiddellik jou prokureur en neem so gou moontlik die nodige stappe om die uitstaande skuld terug te kry.

 

Share: